ViVA

Verken die indirekte (belanghebbende) objek

Deur ViVA Blog

Wat is die indirekte objek?

Die indirekte objek (oftewel indirekte voorwerp) moet beskou word as ’n funksie (“werk”) wat deur ’n sinsdeel in ’n sin verrig word. Wat beteken dit, as ’n sinsdeel die funksie (“werk”) van ’n indirekte objek het? Dit beteken die volgende (Biber et al., 2018:49; Ponelis, 1979:206).

  • Dit is ’n sinsdeel wat ná werkwoorde[i] soos “bied”, “bewys”, “deel”, “gee”, “gun”, “leer”, “deel”, “dien … toe”, “skuld”, “vertel”, “vergeef” en “wys” staan.
  • Dit is ’n sinsdeel wat tipies voor ’n direkte objek staan.
  • Dit is ’n sinsdeel wat die werkwoordgedeelte[ii] aanvul deur in die plek van X in Werkwoordgedeelte X direkte objek te gaan staan, waar dit betekenisgewys aandui wie iets, aangedui deur die direkte objek, ontvang, daarby baat of dit prysgee.

Kom ek gee drie voorbeelde om te illustreer wanneer ’n sinsdeel die funksie van indirekte objek het. Ek gaan dit telkens aan die eienskappe wat hier bo genoem is, meet.

  • Voorbeeld 1: “Hulle vertel die kinders ’n paar sprokies.”

(Hier staan “die kinders” ná die werkwoord “vertel” en voor die direkte objek “’n paar sprokies”. Dit vul die werkwoordgedeelte “vertel” aan, deur in die plek van X in vertel X ’n paar sprokies te gaan staan en betekenisgewys aan te dui wie by die vertelling baat.)

  • Voorbeeld 2: “Die organiseer gee die kunstenaar ’n bos blomme.”

(Hier staan “die kunstenaar” ná die werkwoord “gee” en voor die direkte objek “’n bos blomme”. Dit vul die werkwoordgedeelte “gee” aan, deur in die plek van X in gee X ’n bos blomme te gaan staan en betekenisgewys aan te dui wie die bos blomme ontvang.)

  • Voorbeeld 3: “Vergeef ons ons sonde.”

(Hier staan “ons” ná die werkwoord “vergeef” en voor die direkte objek “ons sonde”. Dit vul die werkwoordgedeelte “vergeef” aan, deur in die plek van X in vergeef X ons sonde te gaan staan en betekenisgewys aan te dui wie die sonde gaan prysgee.)

Uit hierdie voorbeelde is dit dus duidelik dat die indirekte objek betekenisgewys verwys na lewende entiteite wat iets ontvang (d.w.s. die entiteit aan wie die handeling gerig word) en/of by die handeling wat deur die werkwoord uitgedruk word, baat (Biber et al., 2018:49), hoewel die referent[iii] van die indirekte objek nie altyd iets moet “wen” as derde party nie, maar ook iets kan prysgee (soos in voorbeeld 3; (Van Schoor, 1983:24)).

Daar word dikwels na die indirekte objek as die “persoonsobjek” verwys, omdat dit feitlik altyd na ’n persoon (mens) verwys. Hierdie gebruik word egter nie aanbeveel nie, want direkte objekte kan ook na ’n niemenslike entiteit verwys, en gevolglik verwarring veroorsaak. Vergelyk die volgende voorbeeld:

  • Voorbeeld 4: “Hulle gee die plante” (Van Schoor, 1983:25)

Volgens Conradie (2020) kan dit ook gebeur dat ’n indirekte objek verwys na iemand wat iets ontvang én daarby baat (soos in voorbeeld 4), hoewel dit ook net kan verwys na iemand wat die ontvanger van iets is (soos in voorbeeld 5).

  • Voorbeeld 5: “Piet stuur haar ’n nuwe pen.”
  • Voorbeeld 6: “Piet stuur Petra ’n e-pos.”

Die feit dat die indirekte objek ’n soort objek[iv] is, maak dit ook moontlik om meer prominensie daaraan te verleen deur in die lydende vorm ons sin daarmee te begin (Biber et al., 2018; Ponelis, 1979). Op hierdie wyse verskuif ons ons fokus na die ontvanger en/of begunstigde van ’n handeling, eerder as wat iemand gedoen het (vergelyk Van Rooy, 2017:285).

Vergelyk die volgende Engelse voorbeeld (uit Biber et al., 2018:49) en Afrikaanse voorbeeld (uit Ponelis, 1979:417), waar die indirekte objek beklemtoon is:

  • Voorbeeld 7: “Ben Franklin gave you additional funding.”

(Aktiefvorm of bedrywende vorm)

 “You were given additional funding by Ben Franklin.”

(Passiefvorm of lydende vorm) 

  • Voorbeeld 8: “Hulle het my nie ’n glas melk aangebied nie.”

(Aktiefvorm of bedrywende vorm) 

                                    “Ek is nie (deur hulle) ’n glas melk aangebied nie.”

(Passiefvorm of lydende vorm) 

Hierdie vorm van die passiefvorm wat met die ontvanger en/of bevoordeelde begin, kom in ’n aansienlike mindere mate voor in Afrikaans, omdat die vorm soos, volgens Ponelis (1979:417), “bedenklik” is (aangedui met ’n vraagteken). Vergelyk die volgende voorbeeld hiervan:

  • Voorbeeld 9: “Hulle het hom ’n present gegee.”

                        ?“Hy is (deur hulle) ’n present gegee.”

(In plaas van passivering sal slegs die werkwoord verander kon word < “Hy het ’n present gekry”.)

Saam met watter werkwoord word die indirekte objek gebruik?

In die Afrikaanse en Engelse taalkunde word die indirekte objek as “IO” afgekort, en die direkte objek as “DO”. Werkwoorde wat saam met ’n IO en DO gebruik word, staan bekend as dubbeloorganklike hoofwerkwoorde in VivA se Afrikaansgrammatika en as “ditransitive verbs” in Engels. Op skoolvlak word daar egter bloot na oorganklike werkwoorde verwys. 

Moet die indirek objek áltyd voor die direkte objek staan?

Vroeër is aangedui dat die indirekte objek tipies voor die direkte objek staan. Beteken dit dan dat indirekte objekte wat ná direkte objekte staan nie toelaatbaar is nie? Nee, dit is glad nie die geval nie.

In al die vorige voorbeelde is die indirekte objek vormlik ’n stuk van die sin (oftewel sinstuk) wat óf rondom ’n naamwoord óf rondom ’n voornaamwoord gebou is. Die indirekte objek is dus elke keer ’n naamwoordstuk, sou ons ons vormlike lens opsit. Wanneer dit hierdie vorm het, kan dit net vóór die direkte objek staan. Sou dit ná die direkte objek staan, is die sin onkonvensioneel.

  • Voorbeeld 10: “Ek sien dat sy <hom> werk <*hom> gegee het <*hom>.” (Conradie, 2020)

Indien die indirekte objek gerealiseer word as ’n sinsdeel wat rondom die voorsetsel “vir/aan”[v] gebou is, sê ons dat dit vormlik ’n voorsetselstuk is. In so ’n geval is daar variasie rakende die plasing van die indirekte objek. Vergelyk die volgende voorbeeld, waar die indirekte objek (naamlik “vir hom”) voor die direkte objek (naamlik “werk”), ná die direkte objek of selfs aan die einde van die sin verskyn:

  • Voorbeeld 11: “Ek sien dat sy <vir hom> werk <vir hom> gegee het <vir hom>.”

Anita Vogel, ’n vakadviseur van die Intermediêre en Senior Fase in die Lejweleputswadistrik, redeneer dat ál die onderstaande sinne korrek is (waar die direkte objek onderstreep en die indirekte objek met vetdruk beklemtoon is).

  • Voorbeeld 12:
  • “Die pa bestel vir sy seun ’n nuwe werkboek by Adams.”
  • “Die pa bestel vir sy seun by Adams ’n nuwe werkboek.”
  • “Die bestel by Adams vir sy seun ’n nuwe werkboek.
  • “Die pa bestel ’n nuwe werkboek vir sy seun by Adams.”
  • “Die pa bestel ’n nuwe werkboek by Adams vir sy seun.”
  • “Die bestel by Adams ’n nuwe werkboek vir sy seun.”

Ander interessante inligting oor die indirekte objek

Tipies sal daar op skoolvlak geredeneer word dat ’n bysin wat as die subjek (oftewel onderwerp) van die hoofsin gebruik word, ’n onderwerpsin is. Insgelyks is destyds in Den Hertog (1904) se Nederlandsche Spraakkunst. Handleiding ten dienste van aanstaande (taal) onderwijzers. De leer van den samengestelden zin aangedui dat bysinne wat as die indirekte objek van die hoofsin gebruik word, “meewerkende voorwerpsinne” (of dan “indirekte voorwerpsinne”) genoem moet word. Lees die volgende voorbeeld, waar die bysin wat as indirekte objek gebruik word met vetdruk beklemtoon is.

  • Voorbeeld 13: “Gee krediet wie dit toekom.” (Den Hertog, 1904)

Hierdie klassifisering word ook in 1938 in Praktiese Afrikaanse Grammatika met Oefeninge (Botha & Burger, 1938), wat vir skoolgebruik saamgestel is, aangetref. Vergelyk die volgende voorbeeld uit dié skoolbron:

  • Voorbeeld 14: Wie die meeste punte behaal, sal ek ’n prys gee. (Botha & Burger, 1938)

Hoewel daar in hierdie blog aangedui is dat ’n indirekte objek die vorm van ’n voorsetselstuk kan hê (soos “vir hom” in voorbeeld 11 en “vir sy seun” in voorbeeld 12), is dit nie die siening in alle grammatikas nie. In sommige Engelse bronne (soos Biber et al., 2018:367) word aangedui dat sulke sinsdele wat deur ’n voorsetsel ingelei word (d.w.s. voorsetselstukke) eerder as bywoordelike bepalings geanaliseer moet word. Slegs sinsdele wat rondom ’n naamwoord of voornaamwoord gebou is (d.w.s. naamwoordstukke, soos “die kinders”, “die kunstenaar” en “ons” in voorbeelde 1 tot 3) word in dié bronne as indirekte objekte geag.  

Vriendelike groete

Nadine Fouché-Karsten

 

Hierdie blog is met trots geborg deur die AONetwerk.

 

Bronnelys

Biber, D., Conrad, S. & Leech, G. 2018. Longman student grammar of spoken and written English. Harlow: Pearson Education.

Bosman, N. & Pienaar, M. 2018. Afrikaanse semantiek. In: Carstens, W.A.M. & Bosman, N., eds. Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde. 2de uitgawe. Pretoria: Van Schaik. pp. 299-328.

Botha, M.C. & Burger, J.F. 1938. Kaapstad: Maskew Miller Beperk.

Conradie, J. 2020. Dative and PP alternations. https://taalportaal.org/taalportaal/topic/pid/topic-15520674955294275#section_ddg_wwk_1hb Date of access: 20 Maart 2025.

Den Hertog, C.H. 1904. Nederlandsche Spraakkunst. Handleiding ten dienste van aanstaande (taal) onderwijzers. De leer van den samengestelden zin. Amsterdam: W Versluys.

Erasmus, C. 2021. Sintaksis: Die indirekte objek. https://viva-afrikaans.org/lees-luister/blog/item/596-sintaksis-die-indirekte-objek

Ponelis, F.A. 1979. Afrikaanse sintaksis. Pretoria: Van Schaik.

Van Rooy, B. 2017. Afrikaanse sintaksis, funksioneel benader. In: Carstens, W.A.M. & Bosman, N., eds. Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde. Pretoria: Van Schaik. pp. 251-297.

Vogel, A. Die plek van die voorwerpe en bywoordelike bepalings in sinne. [Persoonlike gesprek]. 21 Jan., WhatsApp.

Van Schoor, J. 1983. Die grammatika van standaard-Afrikaans/JL van Schoor. Kaapstad: Lex Patria.