Die eerste nege jaar van ’n kind se lewe is ongelooflik belangrik omdat die brein in hierdie tyd teen ’n geweldige tempo ontwikkel.
Teen ongeveer vyf jaar het ’n kind se brein reeds die meeste van sy fisiese groei voltooi
Die verbindings in die brein word gevorm deur sintuiglike ervaring, beweging, herhaling, emosionele veiligheid en interaksies.
Kinders leer taal nie deur werkkaarte nie.
Hulle leer taal deur:
• verhoudings met hul ouers, versorgers en gesinslede;
• te speel;
• gesprekke te voer;
• stories te hoor en self te vertel;
• te sing;
• beweging;
• nabootsing;
• betekenisvolle ervarings.
Navorsing wys kinders wat in hul vroeë jare baie taal hoor, is baie beter voorbereid om:
• te leer lees;
• te leer skryf;
• planne te maak om probleme op te los;
• suksesvol te selfreguleer;
• akademies te presteer;
• sosiale vaardighede te bemeester.
’n Sterk taalgrondslag beïnvloed dus die kind se hele toekoms
Praktiese wenke vir taalontwikkeling
• Lees elke dag stories.
• Gebruik rympies en liedjies.
• Beperk skermtyd!
• Gee tyd vir vrye spel.
• Speel speletjies met reëls.
• Laat kinders tuis met daaglikse takies help.
• Praat stadig en duidelik.
• Moenie kinders voortdurend korrigeer of reghelp nie.
• Luister regtig na hulle.
Die belangrikheid van stories
Wanneer kinders stories hoor:
• ontwikkel hulle woordeskat;
• leer hulle sinstrukture;
• ontwikkel hul verbeelding;
• leer hulle emosionele begrip;
• verbeter hul luistervaardighede;
• leer hulle om oorsaak en gevolg te herken;
• word opeenvolging van gebeure duidelik, en
• verbeter hul algemene kennis.
Kinders wat baie stories hoor, verstaan later baie beter wat hulle lees
Klankbewustheid
Voordat kinders kan lees, moet hulle klanke kan hoor. Hulle moet:
• geluide kan hoor en identifiseer; huishoudelik, natuurgeluide, dieregeluide, ens.
• rymwoorde kan hoor en identifiseer;
• beginklanke hoor;
• eind- en middelklanke van woorde onderskei en identifiseer;
• lettergrepe klap en kan sê uit hoeveel lettergrepe die woord bestaan;
• klanke binne-in woorde onderskei en benoem.
Voorbeelde:
• ”Watter woord rym met kat?”
• “Waarmee begin bal?”
• “Hoeveel dele hoor jy in olifant?”
• “Watter woord pas nie: mat, bad, rot, gat?”
Hierdie tipe speletjies bou die basis vir lees.
Om te kan lees, is ‘n besonderse vaardigheid wat lewenslank van onskatbare waarde is.
Groete, Wilna van Rooyen

