Uit Wilna se pen

Wiskunde is om jou!

Deur Wilna van Rooyen

Wiskunde is vir almal bedoel.

Alle kinders het die vermoë om wiskunde te doen, ‘n positiewe gesindheid oor wiskunde is baie belangrik en hoe gereeld kinders kan skry om wiskundige begrippe te oefen.

Daar is gevind dat kinders ‘n aangebore vermoë het om eenvoudige syferhoeveelhede te kan hanteer.

Dis belangrik dat kinders die geleentheid kry om self driedimensionele voorwerpe te hanteer en te ondersoek, bv. om ronde balle te hanteer, bottels wat silinders is rond te laat rol, vierkantige en reghoekige bokse te hanteer, op dié manier leer hul spontaan van vorms.

Wanneer hul modderkoekies bak werk hul sommer spontaan uit hoeveel koekies met ‘n sekere hoeveelheid modder gebak kan word.

Wanneer hul met sand en water speel, ervaar hul  wiskundige begrippe soos vol, leeg, half, diep, hoog, laag, baie, min, ens.

Hul beraam planne vir hoe om klim en klouterapparaat te gebruik of hoe om in ‘n boom te klim.  Hierdie aktiwiteite lê die grondslag vir wiskunde.

Wanneer kinders tussen vierkante en driehoeke onderskei, of patrone volgens kleurpatrone ryg, is hul besig met wiskunde.

As kinders binne in bokse klim, voor ‘n stoel staan, op ‘n tafel klim, langs die bal staan, is hul besig om wiskundige begrippe te vorm.

Om tussen lank en kort, groot en klein, baie en min te onderskei, is kinders met wiskunde besig.

Selfs om die dae van die week te ken en bewus te raak van vandag, gister en môre, is kinders besig met wiskunde.

Watter aktiwiteite kan help om wiskunde pret te maak?

Ooreenkomste en verskille

Alledaagse voorwerpe kan ingespan word om ooreenkomste en verskille raak te sien, wat ‘n stewige wiskundige grondslag lê.  In die huis kan messe, vurke, lepels gebruik word, wat almal eetgerei is, maar verskille toon:

Wat het skerp punte? Wat het ronde punte?  Wat kan sny? Watter is ewe lank, langer, korter?  Spelendergewys word die woordeskat ook sommer uitgebrei!

Stoele, tafels, banke, ens. is almal meubels, hoe kom hul ooreen en hoe verskil hulle?

Sortering

Items kan volgens kleur, vorm, grootte, tekstuur, temperatuur, massa gesorteer word.

Wasgoed kan sorteer word, potte, panne, appels, pere, piesangs, wat ook al in die huis beskikbaar is, kan ingespan word om sortering aan te wakker.

Een-tot-een afparing

Ons is vier in die gesin, is daar vir elkeen ‘n stoel, of beker, of koekie, of wat ook al.

Om tafel te dek en vir elkeen ‘n mes, vurk en lepel reg te sit, help met die ontwikkeling van die belangrike begrip.

Hier is drie karretjies, is daar genoeg vir jou en jou boetie?  Is daar te min, of te veel?

Organisering

Hierdie vaardigheid word al bekend gestel wanneer babas stapeltjies pak met houers van verskillende grootte wat opmekaar pas.

Alles wat van lank na kort of klein na groot gerangskik kan word, is speletjies wat kinders help om hierdie vaardigheid te ontwikkel.

Hul is ook lief daarvoor om vas te stel wie die langste of kortste in die gesin is, watter vingers aan hul hande die kortste of langste is, ensovoorts.

Behoud van vorm en getal

‘n Reghoek bly ‘n reghoek, of dit nou so groot soos ‘n selfoon of ‘n deur is en of die kleure dieselfde of verskillend is.

Vier bly vier, of dit nou vier knopies is of vier motors is.

Bou torings met 10 blokkies en dan ook mure met 10 blokkies.  Of die blokkies vertikaal of horisontaal gebruik word, dit bly 10 blokkies.

Laat kinders byvoorbeeld vier nartjies uittel en vier pomelo’s – al is die pomelo’s bai groter as die nartjies, dit bly steeds vier.

Tel is maklik

Dis heerlik as ‘n jong kind sommer tot 50 of verder kan tel, maar die begrip van getalle is die een wat regtig belangrik is!

Weet sy hoeveel is vier?  Weet hy dat drie voor vier kom, of vyf na vier?  Weet sy dat vier vier voorwerpe verteenwoordig en net die naam van iets is nie?

Rympietel is belangrik, want kinders moet getalname ken, sodat hul met begrip kan tel.  Wanneer hul voorwerpe eenkant toe skuif, terwyl hul tel, leer hul om met begrip te tel.  Tel sommer terwyl jul trappe klim, treë loop, voete stamp, hande klap, suikersakkies by die koffiewinkel uittel.

Kinders toon die meeste begrip in getalle wat ooreenstem met hul ouderdom:  kinders wat drie jaar oud is, sal verstaan hoeveel drie is, drie items kan uittel en opdragte uitvoer, soos gee een, twee of drie bekers, aan.

Om op vingers te tel, is die gebruik van hulpmiddels wat aan jou lyfie is.  Kinders kan aangemoedig word om mettertyd ‘n aantal vingers op te hou, sonder om dit eers te tel, bv. drie, vier of later ook die kombinasies tot tien.

Geniet al die aktiwiteite wat van Wiskunde kinderspeletjies maak!

Groete!

Wilna