Uit Wilna se pen

Woordsoorte: Die plek van die partikel

Deur Wilna van Rooyen

Die woordsoorte wat ons in hierdie blogreeks bespreek het, is almal redelik bekend. Ons het gevalle gekry waar handboeke se definisies verskil het of waar die indeling nie ooreengestem het nie nie, maar daar was meestal in skoolgrammatika eenstemmigheid oor watter woordsoorte ons in Afrikaans identifiseer.

Die woordsoort wat blykbaar nie in skoolwerk aandag kry nie, is die partikel (nee, dis nie ʼn anglisisme nie, dis ʼn vakterm; “stukkie” gaan nie werk nie). Partikels is daardie woorde wat op hulle eie eintlik geen betekenis het nie en dus geen semantiese bydrae tot die sin lewer nie, maar wat tog noodsaaklik is om die sin te voltooi. Dis waar die naam vandaan kom – dis woorde wat eintlik deel vorm van ʼn ander, groter bousel wat klaar betekenis oorgedra het, maar wat tog nodig is om die struktuur van die bousel volledig te maak. Nog eienskappe van partikels is dat hulle almal ongelede woorde is, en dat hulle nie affikse (voor- en agtervoegsels) kan neem nie.

Met hierdie definisie as leiding identifiseer ons die volgende partikels in Afrikaans:

Soort Verklaring Voorbeeld
Werkwoord-partikel Niewerkwoordelike deel van ʼn skeibare werkwoord ·       Hy kom laat by die huis aan.

 

·       Ons wens haar geluk.

Ontkennings-partikel Die tweede nie in ʼn ontkenningskonstruksie ·       Hy het nie laat gekom nie.

 

·       Jy luister nooit vir my nie.

Genitief-partikel Die woorde se ofin ‘n konstruksie wat besit aandui ·       Is dit Stefan se boek of André ?
Infinitief-partikel Die woord te in ʼn infinitiefkonstruksie ·       Hy hou daarvan om my te tart.
Konjunksie-partikel ·       Die en wat in multiwoordeienaamwoorde en multiwoordtelwoorde voorkom

 

·       Die tweede lid van die sogenaamde korrelatiewe neweskikkende voegwoorde (sowel… as; beide … en; óf … óf; nóg … nóg)

·       Die tweede lid van korrelatiewe onderskikkende voegwoorde (hoe … hoe; namate … des te)

·       Kuns en Kultuur

 

·       vyf en twintig

·       Óf Henk óf Pieter is skuldig.

·       Hoe meer dae, hoe meer dinge.

Skakelpartikel Die en in skakelwerkwoordkonstruksies ·       Hanlie loop en droom.
Deel-geheel-partikel ·       Die woord van of menig wat ʼn deel van ʼn geheel aandui

 

·       Die woord al of heel wat ʼn geheel aandui

·       Twee van die studente is siek.

 

·       Menig ʼn student het siek geword.

·       Al die gerugte is waar.

·       Heel die wêreld wag op ʼn antwoord.

Vergelykings-partikel Die woord so wat in ʼn vergelyking gebruik word ·       Hy is verdomp so dom soos grond.
Betreklike partikel Die woord so of wat wat in voorkom in ʼn konstruksie so/wat ʼn … ·       Dit is so ʼn jammerte.

 

·       Wat ʼn jammerte!

Graadpartikel Die woord te wat graad aandui ·       Jy praat heeltemal te veel.

As jy meer inligting oor partikels of enige ander woordsoort benodig, raadpleeg ons gratis, aanlyn grammatika, of skakel met ons by taaladvies@viva-afrikaans.org. Ons help graag.

VivA-groete

Sophia